Pablo Software Solutions
Copyright © . All rights reserved.
This website was powered by Ewisoft Website Builder.
Die Afrikaanse Rassebeleid en Die Skrif :Website Builder
Die Godsdienstige Grondslag van ons Rassebeleid :Openbaringslig op die Apartheidsvraagstuk :Verwysings en Notas
Die Godsdienstige Grondslag van ons Rassebeleid

Die Godsdienstige Grondslag van ons Rassebeleid

Referaat gelewer op die “Volkskongres oor die Rassebeleid" (1944)

deur prof. dr. J. D. du Toit.

Gee my 'n Bybelteks," se die teenstander van ons kleurbeleid, „'n Teks wat bewys dat segregasie in ooreenstemming is met die uitsprake van die Heilige Skrif."

Ek het geen teks nie," is my antwoord.

Dan het ek die pleit gewen", se die voorstander van gelykheid . “Ek het 'n teks, In Kolossense 3:11 staan: “Waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie; maar Christus is alles en in almal."

Ek antwoord: Dit is geen bewys nie, Ter plase sal dit dan ook nader gedemonstreer word.

Verder se ek aan die teenstander: “'n Teks het ek nie, maar ek het die Bybel, die hele Bybel. My bewysvoering sal gaan van Génesis tot Openbaring; so moet ons bewyse uit die H. Skrif aanvoer."

Voorlopig laat ek die teenstander met sy teks buite bespreking om hom later verder te woord te staan.

Ek begin met die eerste bladsy van die Skrif, God sal 'n kosmos skep, 'n skone eenheid. Hoe tree Hy op? As Hammabdil, d.w.s. as Skeiding-maker. Al dadelik lees ons van die eer­ste dag: “God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis" (Génesis 1:4). Aangaande die tweede skeppingsdag staan geskrywe: “God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters." (1:6). Dan volg op die derde dag die skeiding tussen droë grond en die versameling van waters, die see (1:9, 10). Op die vierde dag kom die hemelligte te voorskyn: Om te heers oor die dag en oor die nag, en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis" (1:18). Op die vyfde dag skep God die lewende wesens wat wemel in die waters volgens hulle soorte en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte (1:21). Dus weer 'n onderskeiding, en dit hou tot vandag toe stand wat die evolusie ook al redeneer ten gunste van die eenmaking. Dit is en bly soorte. 'n Kloof is daar gevestig, en vir dié kloof is daar geen brug nie. Ten laaste word van die sesde dag dieselfde gemeld, nl. die skepping van die diere volgens hulle soorte (1:24). Ja, ook die mens, die hoogste van die werk van God, kom in onderskeidenheid te voorskyn: Man en vrou het Hy hulle geskape" (1:27). Dan word alles beseël met die woord: “Toe sien God al wat Hy gemaak het en - dit was baie goed" (1:31). Geen enerleiheid maar menigvuldigheid; en dit bly so ondanks alle teëstribbeling van die mens.

By die skepping van alle dinge dien die Here Hom dus aan as Hammabdil, as Skeiding-maker. Dit is 'n groot woord met groot betekenis vir ons onderwerp. Daarop kan ons veilig verder bou.

Die massa geskape dinge kom derhalwe nie deurmekaar in aansyn nie, maar elkeen word afgesonder in sy eie kraal. Dit is dan ook wat die woord segregasie volgens sy afstamming te kenne wil gee.

Wat hier allermees van belang is, is dat plante en diere in “soorte" gegroepeer word, geskeie van mekaar en tog weer een onder die versamelnaam plante en diere.

Maar dan die mens - is by hom ook soorte aanwesig kragtens skeppingsordinansie? Daar staan alleen dat God die mens “man en vrou geskape het." Vandaar dat Paulus aan die wysheidsmense in Athene kon sê: “Hy (God) het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak." Die skeppingsdaad is die “een bloed." Maar let daarop dat daaruit in die weg van die voorsienigheid van God “ al die nasies van die mensdom" voortgekom het - dus nie 'n hoop mense sonder onderskeid nie. Paulus voeg dan ook hierdie belangrike woorde aan sy uitspraak toe: “Om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy (God) vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het." (Handelinge:26).

Om die aarde te bewoon" - hiermee gryp die apostel na die bevel terug: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde" (Génesis 1:28), 'n bevel wat na die Sondvloed letterlik herhaal is toe God aan Noag en sy seuns gesê het: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde". (Génesis 9:1).

Wat wil dit sê? “Vul die aarde" beteken, trek, en trek beteken: nasiewording: Eers toe ons vaders die lae lande by die see in die omtrek van Kaapstad verlaat het en getrek het na die hoër geleë binnelande van Suid-Afrika, het ons 'n nasie geword. Wat toe begin is, het die Groot Trek voltooi.

Deur die bevel: “Vervul die aarde" het God sy goedkeuring aan nasiewording geheg. Vandaar dat Paulus kon sê dat God uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak het.

Maar nou kom die mens met sy eiewysheid. Voor die Sondvloed al het die geslag van Set met die geslag van Kain gemeng. Toe het die reuse gekom en oor die voor-Sondvloed-se wêreld het die geweld losgebreek wat oorsaak was van die strafgerig.

Maar na die Sondvloed het dié eiewysheid en verset teen die bevel van die Here nog kwaaier te voorskyn getree. In die laagte van Sinear het die toringbouers van Babel vergader en uitgeroep: Laat ons nie verder trek nie. Laat ons bymekaar bly. Ons spreek een-en-dieselfde taal. Ons moet een nasie bly. As ons uitmekaar gaan, word ons swak. As ons saamstaan, kan ons 'n toring bou waarvan die punt die hemel raak.

Nou kom die Here weer as die Skeidingmaker Hy sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming. (Génesis 11:6). Deur taalverwarring “het die Here hulle (toe) oor die hele aarde verstrooi." (11:9).

Hier gee ek nou 'n merkwaardige sitaat uit die “Gemeene Gratie" van dr. A. Kuyper. Hy skrywe: “Toe onder die Kaapse Boere die sogenaamde “trek" opgekom het, het die neiging om te “trek" allengs 'n hele menigte aangegryp . . . Nou van agter voel dan ook elkeen hoe in die “trek" van die Kaapse Boere, sonder dat iemand dit vermoed het, 'n mag deur God gewek is wat die hele toekoms van Afrika en ten dele selfs die geskiedenis van die wêreld beheers. Nouwel, so 'n “trek" is juis die teendeel van wat in Sinear se vlakte geopenbaar is. Ook toe moes hulle trek, maar hulle wou nie; hulle stel hul nou uit beginsel en met voorbedagte rade teenoor die beginsel van trek. Nie “trek" nie, maar “bymekaarbly" was die wagwoord en soos nou van agter wel toegestem sal word dat die Kaapse Boere die bestel van God sou weerstaan het, as hulle nie uitgetrek het nie, eweso het die toenmalige geslag in die vlakte van Sinear die wil van die Here weerstaan deurdat hulle hul nie wou versprei nie." 1.

Ek noem hierdie sitaat merkwaardig, omdat dit my, en seker u ook, ontnugter het. Hier is iemand uit Nederland aan die woord wat dit ons kom sê dat in die Trek van die Kaapse Boere (soos hy hulle noem) 'n mag deur God gewek is wat die hele toekoms van Afrika beheers. Wat is egter die feitlike toestand? Nie alleen dat liberaliste, wat niks van die Trek verstaan het nie en stil tuis gebly het, die Afrikanernasie die les in die verlede wou leer nie, maar vandag nog wil die liberaliste ons vertel hoedanig ons as volk moet wees en hoedanig ons moet optree, en dit terwyl ons vaders altyd besig was en ons, na ek hoop, besig wil wees om die bestel van die hoë God uit te lewe!

Dit terloops in verband met die toringbou van Babel. Ek hoop nog weer op die liberaliste terug te kom.

Verdere ondersoek van die Skrif leer ons dat ten opsigte die vermeerdering van volke 'n Goddelike en menslike faktor onderskei moet word. Enersyds is dit God die Here wat die mense uit Babel vandaan “oor die hele aarde verstrooi" (Génesis 11:9), en andersyds is dit die nasies op die aarde wat hulle “verdeel het na die vloed." (Génesis 10:32). In Génesis 10 vind ons dan ook die sogenaamde “volkeretafel" wat ons laat sien hoe die volke hulle aanvanklik op die aardbodem gevestig en die skeppingsbevel ten uitvoer gelê het. In die godsbevel lê die die wet van vermenigvuldiging wat aan die mensheid geleentheid gee om in verskillende volkstipes uiteen te gaan, terwyl dit alles geskied onder beskerming van sy voorsienigheid en onder bevrugtiging van die “algemene genade". Elke nasie het 'n roeping om na te kom, en dit sal duur tot die voleinding toe. Jesus voorspel dit in sy profetiese rede as hy sê: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander" (Matthéüs 24:7). Selfs van die ryk van heerlikheid staan geskrywe in die Openbaring van Johannes: “En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan (van die nuwe Jerusalem) wandel". (Openbaring 21:24).

Die volke moet hulleself dus handhaaf, en dit teenoor die Babiloniese gees van eenmaking. Die wording van nasies en Koninkryke dra die goedkeuring van die Skrif weg, maar nie die vorming van wêreldryke (Empires) nie. Daarom word hulle (die wêreldryke) as diere in die Skrif geteken (Dan. 7), magte wat oorweldig, nasies opsluk en grense, wat God gestel het, tot niet maak. Elke keer duik die Babel-gedagtes weer op, totdat uiteindelik die anti-Christelike kombinasie gesien sal word, koninkryke wat hulle mag sal oorgee aan die dier en een gesindheid sal hê. (Openb. 17:13).

Nou is dit die tyd om die humaniteitsmense te woord te staan wat met die oog op gelykstelling van blank en gekleurd, met die oog ook op assimilasie van nasies, Kolossense 3:11 aanhaal: “Waar daar nie Griek en Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie; maar Christus is alles en in almal". Ongelukkig vir diegene wat hulle vir die eenmakingsgedagte op hierdie apostoliese woorde beroep dat die Griek en Jood, die barbaar en vryman nog altyd daar is! Selfs die slaaf ontbreek nie, ook al is slawerny afgeskaf. Die Evangelie moet volgens hulle in hierdie opsig 'n mislukking gewees het.

Maar lê nou naas Kolossense 3:11 die parallelle plek Galásiërs 3:28 en die ongerymdheid van die liberalistiese verklaring blyk des te meer. Daar staan: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man of vrou nie; want julle is almal een in Christus."

Hoe nou? Ook nie meer man of vrou nie! Maar dan moet Paulus hier erg met homself in teëspraak kom altans as die liberalis se verklaring van die genoemde verse reg is. Want, kyk, in 1 Korinthiërs 11:2-16 voer Paulus juis 'n kragtige pleidooi dat die vrou van die man onderskeie moet wees tot in die drag van haar hare toe! Die apostel bepaal nie presies hoe lank die vroue se hare moet wees nie. Wat hy veroordeel is dat die vrou in haar drag aan die man gelyk wil wees. Die oplossing lê in die sleutelwoord in Christus. Wie in Christus is, is geestelik een, al bly die aardse onderskeidinge bestaan. So is die geval ook met Jood, Griek en barbaar.

Niemand sal dan ook wil beweer dat die gelowige naturel nie die nuwe lewe in Christus deelagtig mag wees nie. So verval dan die tekste in die betekenis wat 'n sogenoemde humaniteit daaraan wil vasknoop. Meteens het ons ook daarteenoor die hele Skrif gestel.

Nou kan ons met die betoog voortgaan. En dan stel ons voorop die woord wat Paulus by sy eerste sendingreis in Listre uitgespreek het: “Hy (God) het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye gee, en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul". (Handelinge 14:17).

Die heidene het in hulle sondige weë voortgegaan, en tog was die Here vir hulle goed. Sommige volke het tot hoë bloei opgeklim en baie gepresteer ten opsigte van wetenskap en kuns, sowel as op die gebied van uiterlike beskawing en regswetenskap. Ek behoef alleen maar die name van Egiptenare, Babiloniërs, Grieke en Romeine te noem. Maar hulle het ook tot diepe verval gekom soos Paulus dit beskrywe in Romeine 1:22-32, daarom het die oordeel van God oor hulle gegaan, “omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is". (Romeine 1:19). In hulle was wat Calvyn genoem het “die saad van die godsdiens". Ja, sê hy, dat die oortuiging dat daar 'n God bestaan van nature almal aangebore en inwendig as't ware in die murg gevestig is" (vgl. Romeine 1:18-21).

En nou kom ons na ons swart wêrelddeel waar die mees algemene barbaarsheid sy hoogste triomfe gevier het. In die volgende digreëls gee ons aan die “bose gees" van ons verdonkerde wêrelddeel die woord:


Ek weet van Gam en van sy snode daad,

hoe hom die vloek van Noag, stap vir stap,

verskrik het en al sy nakoomlingskap -

'n vaderlike vloek brand vroeg en laat.


Met hierdie vloek versterk het ek gegaan

na Afrika die onbekende land,

en dit verskrik met eewge moord en brand,

met ramp en plaag tot waar die Stormkaap staan.


Ek stuur teen jou die swart reus van die land,

Ek sien hom al - deur doem geskudde kop

verhef hy hoog soos Kil'manjaro's top,

vereelte voet staan by die see geplant.


Hom deer geen vloek, dit maak sy voorkop hard,

Hy kom, die assegaai omhooggewend,

sy arm se skadu oor 'n kontinent.

Hy sal deurboor wie hom in oormoed tart.


Waar is die manne wat ons wou beveg?

Egiptenaar, Sidoniër en Moor?

Ruïnes dek hul te vermeetle spoor.

Atlantis en Simbabwe - hul is weg.


Ek is dit wat die sterkste hoop verbreek.

Ek maak die taaiste werklus tot 'n spot,

die Trekkersideaal . . . 'n swerwerslot!

Ek sal my op jou nageslag nog wreek."

Ek dink hierby aan wat 'n Duitse geleerde, reisiger in Afrika se wye geweste, gesê het. Dit kom ongeveer hierop neer: Afrika is 'n swart moeras. Pasop! Wie daarin trap, word deur die moeras verswelg.

Dit wek in my die herinnering aan soveel beskawings wat deur die kontinent van Afrika opgeslurp is. Dit is al 'n studie op sigself. Ek stip alleen aan dat die lig veral probeer indring het uit die noorde, die noordooste en die ooste. Hoeseer van korter of langer duur, bestendig was dit nie. Die lig het telkens weer ondergegaan. Selfs die Christendom wat langs die soom van die ou Wêreldsee in die noorde sulke glansryke triomfe behaal het - dink aan die groot aantal Christelike gemeentes wat gebloei het, dink aan die skole wat vermaardheid verwerf het (bv. dié van Alexandrië), dink aan die illustre manne wie se name die eeue oorleef het: Augustinus, Cyprianus, Tertullianus, Athanasius, Origenes, Clemens Alexandrinus - dit alles het in sy lewenswerklikheid in nagtelike donker ondergegaan.

Laat ons egter ook in gedagte hou dat daar ook nog wel ligpunte was in die algemene donkerheid. Van die kant van die Evangelie besien, was dit 'n tasbare duisternis, seer seker. Maar in geestelike sin was daar nog hierdie vuurtjie, naamlik die sensus divinitatis, soos Calvyn dit genoem het, die floue besef dat daar 'n God is.


'n Vuurtjie in die verte klein,

maar brandend nog met dowwe skyn;

dit fonkel soos 'n bloedrobyn:

hul “tweede hart" het nie gaan staan,

gewetensstem met sy vermaan

het hul die lang nag deur “geslaan".


En hoër brand 'n ander vuur

ook onverganklik is sy duur,

opgloeiend in die donker uur teen die gewelf en sigbaar tot

die end van Kus se wêreldgrot,

Dit straal die boodskap: Daar's 'n God!

Hierdie “sensus" sou egter nie kan red nie maar net uitdrywe tot afgodery en bygeloof, soos Paulus dit ook die heidense Rome voorhou. Daarom word hy gedring om die enige Evangelie oral te verkondig. Lees Romeine 1-3, Galásiërs 1:6, 7.

In natuurlike opsig was daar nog wel ligpunte. En nog gaan ek aanhaal die kostelike woorde wat my ontslape vriend, dr. H. C. M. Fourie, 'n man wat die naturel deur-en-deur geken het, in sy opstel oor “Ons houding teenoor die Naturel"2 skrywe. Hy gaan uit van die Skrifgedagte wat alreeds ontwikkel is, naamlik dat God geen eenvormigheid nie maar veelvuldigheid van nasies gewil het. Dan sê hy dit in verband met 'n verkeerde Evangelie-verkondiging onder die naturelle: Tot nog toe het byna alles meegewerk om hulle te verbyster en te verwilder deur 'n vreemde gedagtewêreld en beskawing aan hulle op te dring." Dikwels het manne oor hulle geheers en aan hulle wette voorgeskrywe wat die grootste deel van die naturelle nie verstaan nie. Jammer vir die naturelle en jammer vir Suid-Afrika Die naturelle verskil nou eenmaal van al die ander nasies. Dit is nie iets vreesliks nie. Vir bekrompe en dom mense is dit natuurlik 'n verbysterende feit. Maar dit is heeltemal natuurlik. Dit moet so wees. Ook in hulle kom die veelvormigheid van menslike lewensuiting en die verskeidenheid van menslike lewensvorme tot openbaring. Hulle vertoon 'n eienaardige tipe in die menslike natuur" (bl. 261).

En nou na die donker eeue, gaan God iets wonderbaars in die geskiedenis teweegbring. Die Boerenasie, 'n nuwe tipe, ontstaan uit 'n wonderbare samevloeiing van bloed, klop aan die donker poort:


Ek is die Trekker met my wa,

die wit kind van groot Afrika.

Ek is geen vreemde uit vreemde hoek,

wat hier na goud en roofgoed soek.

Ek kom my ryke erfnis vra,

ek kom dit soek en speur dit na

as erfseun van my Afrika.

Is dit geen grootspraak nie? Nee, maar dit is 'n waagstuk wat in die geloof onderneem is. Hulle was gewapen met 'n oortuiging wat van hoëre herkoms is:

(1) Hulle was as Bybelgelowiges oortuig dat God in sy voorsienigheid nasies in die aansyn kan roep.

(2) Hulle was oortuig dat hulle wonderbaarlik geword het en dat dié wordingsproses hom nie herhaal het nie.

(3) Hulle was oortuig dat hulle as nasie moet voortbestaan om die wonder van God tot in lengte van dae te verkondig.

(4) Hulle was oortuig dat hulle 'n roeping het vir Afrika: die lig wat in die noorde uitgedoof is, moet as fakkel uit die suide weer ingedra word.

(5) Hulle was oortuig dat hulle Trek ooreenkomstig die bestel van God was.

(6) Hulle was oortuig dat die naturel as eie tipe bestaan en dat in en uit sy aanleg geen Hollandse of Engelse kultuur geskep moet word nie.

(7) Hulle het gegroei in die oortuiging dat uit die naturel geen Hollandse of Engelse Christen gemaak moet word nie. In die Christelike kerk sal hy sy eie tipe verteenwoordig.

Uit dit alles trek ek hierdie konklusies:

Ten eerste, wat God saamgevoeg het, moet die mens nie skei nie. Dit is die kern van ons pleidooi vir volkseenheid. Wee oor ons as ons toelaat dat 'n wig in ons eenheid ingedryf word; en wee oor hulle wat ons wil verdeel. Hieroor sal ek nou nie verder uitwei nie.

Ten tweede mag ons ook nie saamvoeg wat God geskei het nie. In die pluriformiteit word die raad van God verwerklik. Die hoëre eenheid lê in Christus en is geestelik van aard.

Gevolglik wil ons geen gelykstelling en ook geen verbastering nie.

Gelykstelling openbaar die Babiloniese plan van gelykmaking wat deur God in die vlakte van Sinear verydel is. Gelykstelling waar geen gelykheid moet wees nie, is mensewerk. Gelykheid in die sin van dooie eenvormigheid bestaan daar dan ook nie onder die nasies nie. Ons vind op aarde kultuurvolke van verskillende range naas wat ons kortheidshalwe natuurvolke sou kan noem. Ons vind volke met 'n heidense kultuur naas dié met 'n Christelike kultuur. Ons vind in groot groepering die wit, geel en swart ras. En dit is nie maar uitwendige kleursel nie, maar dieper lê 'n “geestelike aanlegverskil" soos Waardenburg opmerk in verband met die stryd tussen Ariër en nie-Ariër3.

Dr. Badenhorst het dan ook goeie grond om te skrywe: “Dat die geestelike verskille tussen rasse bestaan, ontken niemand"4.

Die leuse van die Franse Revolusie van 1789, in die sin waarin dit toe bedoel is, kan ons nie aanhef nie. “Vryheid, gelykheid en broederskap" verstaan ons as Christene heeltemal anders. Hierdie punt kan ek egter nie nader uitwerk nie. Alleen moet ek opmerk dat dié leuse glad nie verouder is nie. Nog onlangs het ek gelees van 'n spoedige aankondiging van die Vierde Franse Republiek wat deur 'n gesaghebbende in vooruitsig gestel is, en waarvoor dan volgens hom dieselfde leuse van vryheid, gelykheid en broederskap as motto diens sal doen, alleen met die byvoeging van “Of die Dood." Uit hierdie byvoeging blyk met watter gedetermineerdheid opgetree sal word. Dan, die Komintern is wel as liggaam ontbonde, maar die gees daarvan leef nog gedug voort. Watter gevaar dit spesiaal vir Suid-Afrika meebring, is in sy voorspooksels al te sien, hoewel geen mens nou al kan bepaal watter omvang dit sal aanneem nie. Ons kan alleen maar vrees, werk en bid.

Geen gelykstelling nie, maar ten tweede ook geen verbastering nie. In hierdie verband moet ek noodsaaklik melding maak van die uitnemende brosjure van ds. J. G. Strydom oor “Die Rassevraagstuk en die toekoms van die blankes in S.A. " Elke huisgesin behoort 'n eksemplaar daarvan in sy besit te hê. Hoor nou net hierdie paar klinkende sinne wat op my onderwerp betrekking het:

Dit is treffend dat die beleid van apartheid, soos hierbo genoem, veral aangetref word in dié dele van die wêreld waar die Protestantse geloof die toonaangewende is. Waar blanke mense wat die Roomse geloof toegedaan is, in wêrelddele ingetrek het waar daar gekleurde primitiewe rasse woon, daar het die ander beleid, naamlik dié van sosiale gelykstelling en assimilasie of samesmelting plaasgevind, met die gevolg, soos die wetenskap en geskiedenis vandag die bewys lewer, dat die hoëre of beskaafde ras altyd verdwyn het. Ons het treffende voorbeelde in die Wes-Indiese Eilande, Mexico en die republieke van Suid-Amerika. Was Jan van Riebeeck en sy mede-koloniste Rooms-Katolieke, dan was daar nie meer vandag 'n suiwer blanke ras in Suid-Afrika nie" (bl. 30). En dan nog hierdie sitaat: “Die beleid van assimilasie word grotendeels gevolg in dié dele waar die Roomse nasies die oorhand het. Vandaar dat Afrika vir die blankes altyd 'n gevaarlike land is en was. Die blankes in Suid Afrika is die enigste van al die nedersettings in Afrika wat hul identiteit bewaar het vir sowat drie eeue. In vroeër eeue het Afrika nog altyd die blanke nasie ingesluk - sodat dit mettertyd verdwyn het", (bl. 31). Ds. Strydom onderskryf dus die gevoele van die Duitse geleerde wat Afrika 'n swart moeras genoem het. Ons as Protestante, sowel hier as in die Suidelike State van Noord-Amerika, onderskrywe dan ook van harte wat dr. Badenhorst sê: “Wie in die gees van die geopenbaarde Wil van God vir rassuiwerheid staan, suiwerheid van die ras as sodanig, sondig nie". (a.w. bl. 116).

Hoeseer die Skrif teen alle onnatuurlike vermenging gekant is, blyk uit die burgerlike wette deur Moses op die bevel van God gegee: ,Jy mag in jou wingerd nie twee soorte saad saai nie. Jy mag nie met 'n os en 'n esel tegelyk ploeg nie. Jy mag geen gemengde stof, wol en linne tegelyk aantrek nie." (Deuteronómium 22:9-11). Volgens die parallelle plek in Levítikus 19:19 waarby Strack in sy kommentaar aanteken: “God het die diere sowel as die plante elkeen na sy soort geskape. Hierdie in die natuur bestaande ordening moet in ag geneem word." Hoeveel te meer geld dit van mense. Alhoewel die mens slegs een soort is, die blanke en naturel so ver van mekaar verwyder, dat 'n huwelik tussen die twee inderdaad 'n mengsel genoem kan word. Hier geld die woord van die Here by die skepping van Eva uitgespreek. “Ek sal vir hom (vir die man) 'n hulp maak wat by hom pas" (Génesis 2:18). 'n Verbintenis soos dié van Van der Kemp met 'n swart slavin was dan ook onpaslik, om nie te sê onnatuurlik nie. Ons bring dan ook eresaluut aan ons stamouers wat hierdie soort ding as 'n gruwel vermy het. Sodoende het hulle voorkom dat ons gaandeweg in die swart moeras versink het. Sodoende het die bestel van God met ons volk sy vervulling bereik. Laat ons dankbaar wees dat God hierdie intuïtiewe insig in die harte van ons vaders gewek het. Anders het die blanke verdwyn en die naturel was nie gebaat nie.

In elk geval is die gejaag na gelykheid 'n fiksie, ook al omdat die blanke in Afrika staan soos een teenoor tienduisende. Die kommunisme hoef dan ook maar net die oorhand te kry om te laat blyk hoe die gelykheid in hierdie opsig in 'n ontsettende ongelykheid kan ontaard. Ons moet dink aan die woord van 'n negerleier wat gesê het: “Die tyd moet uit wees dat die neger die skoene van die blanke lek. Die Europese volke is afgeleef en het hulle tyd uitgedien. Hulle sal nie meer die wêreld regeer nie, maar aan die hoof van die volke gaan die swart ras, nog jonk, gaaf en vol toekoms." (Christ. Ecyclo. s.v. Ras)5.

Die diepe sin van hierdie gebooie ontvou ds. J. van Andel, 'n bekende Skrifverklaarder in Nederland. Hy sê: “So sterk prent die Wet die besef van suiwerheid in dat dit aan die Israeliet elke handeling verbied wat 'n deureenmenging bevat wat in die oorspronklike orde in soort vaneengeskeie is. Sekerlik doen die wet dit met die bedoeling om alles te voorkom wat die besef van suiwerheid kan ondermyn. So moet bv. verklaar word die verbod om op een akker tweërlei saad te saai (Levítikus 19:19), om in een kleed tweërlei stof deureen te weef (Deuteronómium 22:11) ... om 'n os en 'n esel te span voor een ploeg (Deuteronómium 22:10), om 'n kleed van die ander geslag aan te trek (Deuteronómium 22:5). Ons sien dan ook dat bewustheid van onderskeidinge onder Israel tot 'n hoë graad van helderheid styg en daar waghou oor elke onnatuurlike vermenging van wat ongelyksoortig is. Wel moet ons ook hierdie wenke ter harte neem. Onder die invloed tog van 'n oorspronklike beskawing wat die sin vir die natuurlike orde en die oorspronklike eienaardighede verswak, begin daar iets onnatuurliks, wat maklik in die teennatuurlike kan omslaan, in ons tydgees asem te haal. Die ooreenkoms word duideliker as die verskil gevoel; op die gelykheid word meer nadruk gelê as op die verskeidenheid; die mens wil alles naas mekaar stel en op gelyke voet bring. So dreig die gevaar dat netnou, onder die invloed van die vrygemaakte vlees, die ewige orde van die dinge uitgewis word en die wêreld homself in slyk en modder verstik.” (De Mozaische Wet, bl. 81). In verband met die laaste woord moet die leser dink aan wat oor Afrika as moeras aangehaal is.

Dié krasse woord open 'n donker vooruitsig waaromtrent ek, op grond van die profetiese Skrif, veel meer sou kon sê. Maar dit sou my te ver weg voer. Ek bepaal my dus tot die teenswoordige en vestig u aandag ten slotte op wat Paulus skrywe in 1 Korinthiërs 7:18-24. Ek doen dit enigsins uitvoerig,

1. om te verduidelik wat in die algemeen op Skriftuurlike gronde ons roeping is ten opsigte van die naturelle en wederkerig hulle roeping teenoor ons en

2. om klem te lê op die besondere betekenis van die woord “roeping" soos die Skrif dit vertolk.

Van die aangehaalde verse sê prof. Grosheide in sy verklaring (wat deurgaans deur my gevolg word) dat die daarin genoemde gevalle, naamlik besnydenis en slawerny, “gevalle is waarin iemand maklik daartoe kan kom om nie in die eerste plek na die roeping op te sien nie, maar om te strewe na verandering van aardse lewensomstandighede. Dit kan wees dat iemand as besnedene, dus as Jood, geroep is, dan . . . moet hy nie poog om die besnydenis ongedaan te maak nie. Omgekeerd moet ook iemand wat as onbesnedene, d.w.s. as heiden, geroep is, hom nie laat besny om aldus eers Jood te word nie." (Vs. 18).

Ek maak daarop attent dat die woorde “roeping" en “roep" agt maal in die kort perikoop voorkom. Dit is dus die hoofsaak. In vs. 19 verduidelik Paulus dan ook dat dit nie die kwessie is: Jood of heiden nie, maar dat die geroepene die gebooie van God onderhou. Dit word in vs. 20 meer algemeen uitgedruk: “Laat elkeen bly in die roeping waarin hy geroep is." Nou kom die besondere punt van die slawe. Natuurlik wou hulle graag vry wees, al het hulle dit in Griekeland nie al te sleg gehad nie. “Daar is ook niks teë nie, maar waar wel iets teë is, is dat hierdie pogings om vry te word soseer die een en die al sou word, dat daardeur die roeping nie die hoofsaak meer sou wees nie. Paulus betoog: “Trek julle daar niks van aan nie, slawe, dat julle as slawe geroep is nie, as julle maar geroep is. En wanneer julle vry kan word, goed, maar laat dit dan tengevolge hê dat julle nog meer gebruik van julle roeping maak." Hierdie enigsins moeilike vers vertaal Grosheide dan ook: maar stel dat ge vrij kunt worden, maak dan van u roeping te meer gebruik.

Vs. 22 verduidelik nog verder. In Christus geld die wonderbare. Die slaaf, deur Christus vrygekoop, is 'n vrygelatene van die Here; en die heer (vryman) deur Christus vrygekoop, is 'n slaaf van Christus. Die diens van Christus is die hoogste vryheid. Die slotsom is dus: Moenie slawe van mense word nie (vs. 23). En dan die einduitspraak: Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroep is, daarin bly by God. (vs. 24). God roep. Hy doen dit op 'n bepaalde wyse. Die wyse kan verskil, maar dit is altyd 'n roeping van God. En daaraan moet elkeen hom hou."

Waarom het ek so lank by dié perikoop stilgestaan? Hier is 'n boodskap vir die vryman, maar ook vir die diensbare van alle eeue. Slawerny is, dank aan God, afgeskaf. Dit was 'n gruwel. Hier het die Christelike beginsel deurgewerk. Desondanks bly daar egter 'n onderhorigheid, 'n sosiale gesag, 'n verskeidenheid van staat (status). Ten opsigte van die naturelle spreek ons meer van die Christelike voogdyskap oor hulle.

Nouwel, mede-Afrikaners, hier is 'n enig-hoë boodskap van God, naamlik om die naturel in sy onmondigheid en onderhorigheid op te kweek. Gelukkig is dit 'n feit dat ons owerhede meer vir die naturelle doen as wat elders in Afrika geskied. Oor wat die Kerke doen, sal later gespreek word. Maar ons moet dit sien as 'n heilige roeping van Godsweë. Daar moet gebed wees om die wysheid wat van bo is. Die heerlike God wat ons vaders gelei het as fakkeldraers vir swart Afrika, sal ons ook lei en besiel om onder miskien nog swaarder omstandighede liggewers te wees waar die donkerheid nog sy spore gelaat het.

Maar hier is ook 'n enig hoë boodskap wat onder die naturelle uitgedra moet word. Ons moet hulle laat verstaan dat hulle geen slawe van mense moet word, allermins van kommuniste nie. Kommunisme gaan weer slawerny wees, nie vir een deel slegs nie, maar vir almal. Die gekleurdes moet naturelle-Christene word, inderdaad vrygemaak deur Christus. Dan sal hulle nie strewe na revolusionêre verandering van aardse omstandighede nie. Hulle sal dan vra: Wat is ons roeping. En Paulus sê: Dit is die onderhouding van die gebooie van God. Dan alleen is hulle waarlik vry, wat die bykomstige omstandighede ook al mag wees.

Maar ek vrees, toehoorders, dat ons nie diep genoeg besef wat die Bybelse sin van 'n roeping is nie. Veroorloof my dus om u ten slotte na die hoogtepunt te lei van wat tot hiertoe gesê is. Vergewis u dan wel van die feit dat Paulus by die botsing van meninge, by die padsoekery in die donker, tot agtmaal toe die hoë woord “roeping" gebruik. Dit is ons ligbaken.

Hierdie woord “roeping" klink as krygsmusiek in die ore van elke Calvinis, dit is eintlik sy woord.

Krygsmusiek dien om die stryder in opgewekte stemming te bring, om hom, vermoeid en moedeloos, tot vernude kraginspanning aan te wakker. Ek is geroep, en ek is 'n geroepene - hierdie gewisheid dien om ons opnuut aan te vuur.

Mense wat die “vrye wil" drywe, spreek liefs nie van roeping nie. Vir hulle het die woord iets onvrys, iets gebondens, iets gedwonge haas. Want kyk, 'n adjudant wat deur sy generaal geroep is en 'n opdrag ontvang, is geen vryman meer nie.

Uit onsself wil ons liewer “los" bly. Die mens van ons eeu veral wil hom nie laat bind deur iets wat van buite af kom nie. Vandaar dat hy by voorkeur spreek van “ooreenkoms, wilskeuse, afspraak, wenslikheid." Hy wil gelei wees deur eie insig van goed en kwaad of eie gevoel van lus en onlus. 'n Ander moet nie sy heer en meester wees nie.

Daarom sê Samuel aan Saul: “Gehoorsaamheid (aan die stem van die Here) is beter as slagoffer."

Vat dit streng en diep op. Ons handel hier nie oor 'n kleinigheid nie. Nee, dit sny dwarsdeur murg en gebeente, dwarsdeur siel en gees, dit laat ons met bewende erns voor God verskyn. Met alle eiewilligheid is dit dan gedaan. Soos iemand dit so kras uitgedruk het: “As iemand die taak ontvang om twintig jaar lank aan 'n sondaar die Evangelie te bedien, moet hy dit doen. As 'n mens die opdrag kry om 20 jaar lank aan 'n siekbed te sit om iemand op te pas, is dit sy “godsdiens." Nooit moet ons iets doen, as God dit nie sê nie. Ons het selfs nie die reg om te dien of onsself te verloën nie, as God nie roep nie.

Wie volgens eie opvatting sy lewenstaak volbring is die broeder van 'n remonstrant of pelagiaan. Die Skriftuurlike woord roeping sê met oorweldigende krag: God wil en daarom moet ek. Vir willekeur, traagheid en selfgenoegsaamheid is daar geen plek meer nie.

Daar het al soveel drangroepe tot ons volk uitgegaan. Hier is nou die kragtigste drangroep. Ons is dankbaar dat die F.A.K. ons tot hierdie Kongres opgeroep het. Dit is die openbaring van die regte waaksaamheid. Sal die ganse blanke Suid-Afrika nou gaan luister, nou ter harte gaan neem en die drangroep in dade gaan omsit?

 

 

Laaste keer geredigeer: 2008 / Geplaas: 31 Maart 2017